Ons daaglikse brood
Wanneer ons bid en van ons Vader vra
Om ons te seën en ons te dra,
En te voorsien in ons behoeftes-nood,
Gee ons vandag ons daagliks brood:
Erken ons so dat ons afhanklik is,
En sien ons op die Groot Ek is!
Wanneer ons vra van onse Vader God,
Aanbid ons God en Sy Gebod,
En bring ons eer aan onse Hemelheer,
Erken ons so Sy Grootheid, eer.
Gee ons vandag wat ons nou nodig het,
Dan antwoord Hy op ons gebed!
En geen gebrek sal ons in lewe ly,
As ons onsself geheel Hom wy.
Werk dan jou werk om so te kan voorsien,
Deur God’s genade Hom te dien,
En elke dag gee Hy ons nuwe krag,
Wanneer ons op die Here wag!
Net soos die manna in die dor woestyn
Sal ons van God ontvang wat rein
En edel, en ook nuttig is en goed,
Om ons te klee en ons te voed.
Want Hy skenk ons ons kleed en daagliks brood,
Voorsien in ons las en nood!
Geniet dit dan vanuit die hand van God,
En neem dit aan, dis Sy gebod!
Het Hy jou nie van sondelas bevry?
So skenk Hy jou dit alles vry.
Hy sal voorsien in al jou vra en nood,
Jou klere en jou dag se brood!
Want in jou Vader God moet jy steeds glo:
Sy gawes goed kom tog van bo.
Op onse God moet jy altyd vertrou:
Hy sal behoed, bewaar, behou,
En dag vir dag jou al Sy gawes gee,
En troos in droefheid en in wee!
Wanneer probleme op jou kop wil hoop
Plaas al jou laste en jou hoop
Op God wie altyd al die goeie gee,
Want Hy loop altyd met jou mee,
En Hy voorsien ook daagliks in jou nood,
En skenk vandag vandag se brood!
Geskryf deur Joffie Janse van Rensburg op 10 Augustus 1986